|
|
1972 - 2009
'n GEMEENTE WAT GROEI
"Uit Christus groei die hele liggaam, ondersteun deur die gewrigte
en saamgebind deur die spiere, soos God dit laat groei." (Kol. 2 : 19)
Bellville-Oosgemeente is, in terme van bestaansjare, sekerlik een
van die "babas" in die klassis. Tog kyk ons terug op byna 30 jaar
waarin die Here se genade en trou soos 'n goue draad ingeweef is
in die geskiedenis van ons gemeente. Met elke kerk loop ons Hemelse
Vader 'n pad, 'n unieke pad, en as 'n mens terugkyk op die geskiedenis
van Bellville-Oos is die wesenskenmerk van die gemeente postiewe
groei deur die genade van God. Hierdie groei kan sekerlik in getalle
waargeneem word, ja, maar dis veel meer as dit; van die gemeente
sou Paulus sekerlik kon sê: "......want julle geloof neem sterk toe
en sonder uitsondering word julle liefde vir mekaar altyd meer"
(2 Tess. 1 : 3)!
GESKIEDENIS
Op 16 April 1972 stig Bellville-Oos met 409 lidmate (237 belydende-
en 172 dooplidmate) af van Bellville onder leiding van ds. S.J.
van der Bijl wat die konsulent was. Die Sondag tydens die oggenddiens
is `n aantal ouderlinge en diakens losgemaak in Bellville en die
middag met die afstigting is feitlik dieselfde groep weer bevestig!
Die ouderlinge (waarvan vier nog steeds in die gemeente is!) was
JM Amoraal, FF Booyens, JJH Booysen, CH Broers, AP Duvenhage,
JJ Howell, H Turkstra, AT van der Walt, DJ van Zyl, F. Voogt en
I Wüst. Die diakens ( waarvan 5 nog in die gemeente is) was L Bakker,
FAJ Coetzee, MH Daling, SWJ Greeff, JH Labuschagne, WJ Prinsloo,
HL Reinecke, G ten Brink, BJ Ter Haar, WD van der Walt, IAJ van
Rensburg en J Voogt. Vir die grootste deel van Bellville-Oos se
geskiedenis is WD van der Walt die voorsitter van die finansiële
kommissie van die gemeente.
Eredienste is aanvanklik in die skoolsaal van die Hoërskool Bellville
gehou (in die ou skoolgebou in Voortrekkerweg) en saans was die
dienste gesamentlik met Bellville. As die skool hulle skoolsaal
wou gebruik vir eksamen of iets anders, het hulle op baie kort
kennisgewing laat weet dat die saal nie beskikbaar is nie en dan
moes ons Sanlam se hulp vinnig inroep en is dienste gehou in die
CR Louw teater! Later het die dienste toe verskuif na die skoolsaal
van die Laerskool Excelsior.
Die gemeente was nie lank vakant nie. Die eerste beroep uitgebring,
word aanvaar deur ds. NP Heysteck van Worcester, 'n pastorie is
aangekoop en onder ds. Klasie se leiding is dadelik begin met die
beplanning en bou van 'n kerkgebou. Dit het lang vergaderings tot
gevolg gehad om almal se idees te kon huisves! Henk Broers was
voorsitter van die boukommissie en tydens die bou van die kerkgebou
is baie koeksisters en melkterte gebak - altyd in 'n heerlike gees
van samewerking. Hierdie tyd word veral gekenmerk deur 'n besonder
hegte verhouding met Bellville-gemeente wat deurentyd bystand
verleen het. Dit was dan ook `n besonder heuglike dag toe die
kerkgebou in gebruik geneem is op Saterdag 19 Julie 1975. Die
diens by die geleentheid is gelei deur dr PW Bingle met prediking
oor die hoëpriesterlike seën uit Numeri 6 : 24 - 26 en die
gemeente het, by die ingaan in die kerk, Psalm 84 : 1, 2 ("Hoe
lieflik is u wonings, Heer.......") gesing.
Humor het ook nie uitgebly nie! So skryf die eerste koster van
die nuwe gemeente, Gerrit ten Brink, oor die probleme met Nagmaal:
" Nie alleen het ons die afstigting met gepaste Doppervreugde
meegemaak nie, maar het ek het ook in die begin as koster gefungeer,
wat onder meer behels het om die nagmaalstafel in gereedheid te bring.
Dit het nie alleen die poets van geleende silwer bekers en borde
beteken nie, maar ook die dek van die tafels met gehuurde tafellinne,
kompleet met bruingebrande sigaretgaatjies en blykbaar onverwyderbare
kosvlekke! Om hierdie ongeregtighede so veel moontlik aan die oog te
onttrek, het aansienlike strategie vereis! Die gehuurde tafeldoeke
was so styf soos planke en in plaas dat hulle reghoekig was, was
hulle parallellogrammaties(?!). Om hierdie doeke ordentlik op die
suiwer reghoekige tafels te kry was 'n onmoontlikheid, ondanks die
feit dat die "hulpe teenoor my" en ek die hoeke met al ons kragte
in hoeke van 90º geprobeer trek het!"
Aan die begin van 1977 neem ds. Klasie 'n beroep na Pretoria aan
en die gemeente is 'n jaar vakant voordat die Here weer 'n predikant
stuur; dr. Frans van der Walt van Bloemfontein-Wes. (Op 'n stadium
was daar vier drs. van der Walt op die kerkraad, maar nie een van
hulle kon medisyne voorskryf nie!!). In 1988 rig die Gereformeerde
Stigting die aftree-oord vir bejaardes, Huis Boland, binne die
gemeentegrense op. 'n Hoogtepunt was die sooispitseremonie op 17
Oktober 1988, en 'n mens onthou hier onwillekeurig 'n persoon soos
oom Koos Jordaan wat die platteland plat gery het op soek na "Doppers"
asook sy opofferings, liefde en ywer vir die saak sowel as sy hulp
met die voorafbeplanning.
Die getal lidmate neem so vinnig toe dat die gemeente in 1989
besluit om 'n tweede predikant te beroep en beroep vir ds. HS
Coetzee wat op 17 Maart 1990 bevestig word. Die kerkgebou word
te klein vir die getal gemeentelede en daar word besluit op twee
oggenddienste. Onder leiding van ds. Fanie word 'n naburige huis
aangekoop vir addisionele katkisasielokale en die word herdoop
tot die Kerkhuis. Steeds groei die gemeente en met ds. Fanie se
vertrek na Potchefstroom-Noord, word ds. Reinder Kingma beroep,
hy neem aan en word bevestig op 22 Julie 2000.
Na dr. Frans geëmeriteer het, beroep die gemeente vir ds. Henning
Venter van Reddersburg in 2007. Hy volg die roeping op en word as
die vyfde predikant in die gemeente se geskiedenis bevestig.
Die behoefte aan 'n groter lokaal vir die eredienste, meer ruimtes
vir katkisasie en gemeente-aktiwiteite loop uit op 'n omvangryke
bouprojek. Na die ingebruikneming van die aanbouings, het die
gemeente nou 'n veeldoelige en praktiese gemeentesentrum. Die
sentrum is toegerus met 'n groot kombuis, veelsydige sale, goeie
klank en video fasiliteite.
VYF PREDIKANTE UIT EEN GELOOFSOOG
Vyf predikante, elkeen met sy eie gawes en talente, lewer elk
in hulle bedieningtydperk 'n besondere bydrae tot die groei van
die gemeente.
- Dr. Klasie het die gemeente geleer om bly te wees soos wat hy
altyd bly was in die Here
- Dr. Frans het die gemeente geleer om na die Woord te luister
soos wat hyself stil was voor die Here
- Ds. Fanie het met moed en wyse humor vreugde en daadkrag gepredik
en gedoen.
- Ds Reinder is Koningskind, nederig en opreg, maar kind in die
gesin van 'n groot Koning.
- Ds Henning is vol jong lewenslus maar nugter en suiwer soos God
van Sy kinders verwag.
Die Here het aan die gemeente predikante gegee wat hulle krag
en leiding van die Heilige Gees verwag en wat saam met Paulus sou
kon sê:
"Wat is Apollos dan? Wat is Paulus? Hulle is maar net dienaars
deur wie julle tot geloof gekom het, en elkeen doen die werk soos
die Here dit vir hom gegee het. Ek het geplant, Apollos het natgegooi,
maar dit is God wat laat groei het. Dit gaan dus nie om die een wat
plant of die een wat natgooi nie, maar om God wat laat groei." (1
Kor. 3 : 5 - 7)
'N GEMEENTE WAT GROEI
Wanneer 'n mens (as buitestaander) na die gemeente van Bellville-Oos
kyk, sou daar sekerlik vele byvoeglike naamwoorde gegee kan word aan
die beeld (of aard) van die gemeente. Woorde soos: kreatief, ywerig
en energiek, meelewend, ondersteunend, barmhartig, gelukkig en nog
meer sou sekerlik almal van toepassing wees, maar die mooiste beeld
van die gemeente word sekerlik gevind in Ef. 4 : 15, 16: "...ons sal
in die liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na
Christus toe: Hy is immers die hoof en uit Hom groei die hele liggaam.
Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam 'n eenheid.
Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself
op in liefde." 'n Eenheid wat groei uit 'n verskeidenheid (van talente
en gawes met 'n besondere knippie humor!).
|