GKBO

Header

1972 - 2009

'n GEMEENTE WAT GROEI

"Uit Christus groei die hele liggaam, ondersteun deur die gewrigte en saamgebind deur die spiere, soos God dit laat groei." (Kol. 2 : 19)

Bellville-Oosgemeente is, in terme van bestaansjare, sekerlik een van die "babas" in die klassis. Tog kyk ons terug op byna 30 jaar waarin die Here se genade en trou soos 'n goue draad ingeweef is in die geskiedenis van ons gemeente. Met elke kerk loop ons Hemelse Vader 'n pad, 'n unieke pad, en as 'n mens terugkyk op die geskiedenis van Bellville-Oos is die wesenskenmerk van die gemeente postiewe groei deur die genade van God. Hierdie groei kan sekerlik in getalle waargeneem word, ja, maar dis veel meer as dit; van die gemeente sou Paulus sekerlik kon sê: "......want julle geloof neem sterk toe en sonder uitsondering word julle liefde vir mekaar altyd meer" (2 Tess. 1 : 3)!

GESKIEDENIS

Op 16 April 1972 stig Bellville-Oos met 409 lidmate (237 belydende- en 172 dooplidmate) af van Bellville onder leiding van ds. S.J. van der Bijl wat die konsulent was. Die Sondag tydens die oggenddiens is `n aantal ouderlinge en diakens losgemaak in Bellville en die middag met die afstigting is feitlik dieselfde groep weer bevestig! Die ouderlinge (waarvan vier nog steeds in die gemeente is!) was JM Amoraal, FF Booyens, JJH Booysen, CH Broers, AP Duvenhage, JJ Howell, H Turkstra, AT van der Walt, DJ van Zyl, F. Voogt en I Wüst. Die diakens ( waarvan 5 nog in die gemeente is) was L Bakker, FAJ Coetzee, MH Daling, SWJ Greeff, JH Labuschagne, WJ Prinsloo, HL Reinecke, G ten Brink, BJ Ter Haar, WD van der Walt, IAJ van Rensburg en J Voogt. Vir die grootste deel van Bellville-Oos se geskiedenis is WD van der Walt die voorsitter van die finansiële kommissie van die gemeente.

Eredienste is aanvanklik in die skoolsaal van die Hoërskool Bellville gehou (in die ou skoolgebou in Voortrekkerweg) en saans was die dienste gesamentlik met Bellville. As die skool hulle skoolsaal wou gebruik vir eksamen of iets anders, het hulle op baie kort kennisgewing laat weet dat die saal nie beskikbaar is nie en dan moes ons Sanlam se hulp vinnig inroep en is dienste gehou in die CR Louw teater! Later het die dienste toe verskuif na die skoolsaal van die Laerskool Excelsior.

Die gemeente was nie lank vakant nie. Die eerste beroep uitgebring, word aanvaar deur ds. NP Heysteck van Worcester, 'n pastorie is aangekoop en onder ds. Klasie se leiding is dadelik begin met die beplanning en bou van 'n kerkgebou. Dit het lang vergaderings tot gevolg gehad om almal se idees te kon huisves! Henk Broers was voorsitter van die boukommissie en tydens die bou van die kerkgebou is baie koeksisters en melkterte gebak - altyd in 'n heerlike gees van samewerking. Hierdie tyd word veral gekenmerk deur 'n besonder hegte verhouding met Bellville-gemeente wat deurentyd bystand verleen het. Dit was dan ook `n besonder heuglike dag toe die kerkgebou in gebruik geneem is op Saterdag 19 Julie 1975. Die diens by die geleentheid is gelei deur dr PW Bingle met prediking oor die hoëpriesterlike seën uit Numeri 6 : 24 - 26 en die gemeente het, by die ingaan in die kerk, Psalm 84 : 1, 2 ("Hoe lieflik is u wonings, Heer.......") gesing.

Humor het ook nie uitgebly nie! So skryf die eerste koster van die nuwe gemeente, Gerrit ten Brink, oor die probleme met Nagmaal:
" Nie alleen het ons die afstigting met gepaste Doppervreugde meegemaak nie, maar het ek het ook in die begin as koster gefungeer, wat onder meer behels het om die nagmaalstafel in gereedheid te bring. Dit het nie alleen die poets van geleende silwer bekers en borde beteken nie, maar ook die dek van die tafels met gehuurde tafellinne, kompleet met bruingebrande sigaretgaatjies en blykbaar onverwyderbare kosvlekke! Om hierdie ongeregtighede so veel moontlik aan die oog te onttrek, het aansienlike strategie vereis! Die gehuurde tafeldoeke was so styf soos planke en in plaas dat hulle reghoekig was, was hulle parallellogrammaties(?!). Om hierdie doeke ordentlik op die suiwer reghoekige tafels te kry was 'n onmoontlikheid, ondanks die feit dat die "hulpe teenoor my" en ek die hoeke met al ons kragte in hoeke van 90º geprobeer trek het!"

Aan die begin van 1977 neem ds. Klasie 'n beroep na Pretoria aan en die gemeente is 'n jaar vakant voordat die Here weer 'n predikant stuur; dr. Frans van der Walt van Bloemfontein-Wes. (Op 'n stadium was daar vier drs. van der Walt op die kerkraad, maar nie een van hulle kon medisyne voorskryf nie!!). In 1988 rig die Gereformeerde Stigting die aftree-oord vir bejaardes, Huis Boland, binne die gemeentegrense op. 'n Hoogtepunt was die sooispitseremonie op 17 Oktober 1988, en 'n mens onthou hier onwillekeurig 'n persoon soos oom Koos Jordaan wat die platteland plat gery het op soek na "Doppers" asook sy opofferings, liefde en ywer vir die saak sowel as sy hulp met die voorafbeplanning.

Die getal lidmate neem so vinnig toe dat die gemeente in 1989 besluit om 'n tweede predikant te beroep en beroep vir ds. HS Coetzee wat op 17 Maart 1990 bevestig word. Die kerkgebou word te klein vir die getal gemeentelede en daar word besluit op twee oggenddienste. Onder leiding van ds. Fanie word 'n naburige huis aangekoop vir addisionele katkisasielokale en die word herdoop tot die Kerkhuis. Steeds groei die gemeente en met ds. Fanie se vertrek na Potchefstroom-Noord, word ds. Reinder Kingma beroep, hy neem aan en word bevestig op 22 Julie 2000.

Na dr. Frans geëmeriteer het, beroep die gemeente vir ds. Henning Venter van Reddersburg in 2007. Hy volg die roeping op en word as die vyfde predikant in die gemeente se geskiedenis bevestig.

Die behoefte aan 'n groter lokaal vir die eredienste, meer ruimtes vir katkisasie en gemeente-aktiwiteite loop uit op 'n omvangryke bouprojek. Na die ingebruikneming van die aanbouings, het die gemeente nou 'n veeldoelige en praktiese gemeentesentrum. Die sentrum is toegerus met 'n groot kombuis, veelsydige sale, goeie klank en video fasiliteite.

VYF PREDIKANTE UIT EEN GELOOFSOOG

Vyf predikante, elkeen met sy eie gawes en talente, lewer elk in hulle bedieningtydperk 'n besondere bydrae tot die groei van die gemeente.

  • Dr. Klasie het die gemeente geleer om bly te wees soos wat hy altyd bly was in die Here
  • Dr. Frans het die gemeente geleer om na die Woord te luister soos wat hyself stil was voor die Here
  • Ds. Fanie het met moed en wyse humor vreugde en daadkrag gepredik en gedoen.
  • Ds Reinder is Koningskind, nederig en opreg, maar kind in die gesin van 'n groot Koning.
  • Ds Henning is vol jong lewenslus maar nugter en suiwer soos God van Sy kinders verwag.

Die Here het aan die gemeente predikante gegee wat hulle krag en leiding van die Heilige Gees verwag en wat saam met Paulus sou kon sê:
"Wat is Apollos dan? Wat is Paulus? Hulle is maar net dienaars deur wie julle tot geloof gekom het, en elkeen doen die werk soos die Here dit vir hom gegee het. Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het. Dit gaan dus nie om die een wat plant of die een wat natgooi nie, maar om God wat laat groei." (1 Kor. 3 : 5 - 7)

'N GEMEENTE WAT GROEI

Wanneer 'n mens (as buitestaander) na die gemeente van Bellville-Oos kyk, sou daar sekerlik vele byvoeglike naamwoorde gegee kan word aan die beeld (of aard) van die gemeente. Woorde soos: kreatief, ywerig en energiek, meelewend, ondersteunend, barmhartig, gelukkig en nog meer sou sekerlik almal van toepassing wees, maar die mooiste beeld van die gemeente word sekerlik gevind in Ef. 4 : 15, 16: "...ons sal in die liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe: Hy is immers die hoof en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam 'n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde." 'n Eenheid wat groei uit 'n verskeidenheid (van talente en gawes met 'n besondere knippie humor!).

 

Indien u enige probleme met hierdie webbladsye ondervind, stuur asseblief 'n boodskap aan die Webmeester
:: ontwikkel spesifiek vir IE Internet Explorer 5+ en Firefox Firefox 2+ ::