Mediateek

Die doel van die Mediateek is om ondersteunend te wees in die geestelike groei van die predikante en gemeentelede (ook Bybelstudiegroepe) deur die aankoop en beskikbaar stel van geestelike DVD`s, CD`s en boeke.

Hier volg die lyste van ons beskikbare boeke, DVD's en CD's

Resensies

‘n Lewe Sonder Beperkings

"‘n Lewe sonder beperkings" is ‘n boek geskryf deur Nick Vujicic.  Nick Vujicic is in Australië sonder arms en bene gebore as die oudste kind van Serwiese immigrante.  In die boek vertel hy sy lewensverhaal en hoe hy met sy gebrek moes leer saamleef en hoe dit eintlik die doel en inspirasie van sy lewe geword het.  Op ‘n jong ouderdom wou hy op ‘n keer selfmoord pleeg.  Hy het egter besef dat hierdie poging deur selfsug en selfgesentreerdheid aangevuur is.  Hy het besef dat die fokus van sy lewe weg moet draai van homself en hy het eerder op ander begin fokus. 

Sy droom om ‘n motiveringspreker en evangelis te word het op ‘n vroeë ouderdom gestalte begin kry en vandag toer hy die wêreld vol om mense aan te spoor en te inspireer om hul doel en die plan van God vir hul lewens na te volg en te ontdek.  Hy gee stapsgewys inspirerende raad deur sy eie lewe as voorbeeld te gebruik en dit te stel dat niks in die lewe ‘n mens hoef te beperk nie.  ‘n Baie positiewe verhaal  vol hoop en inspirasie.

deur Henriëtte Boot

HARTSBEGEERTES :  ‘N RESENSIE

“Hartsbegeertes” is ‘n DVD wat handel oor die daaglikse gebeure en omstandighede van twee families.   Soos ons almal het hulle ook ‘n stryd met die lewe en die doel van hul
lewens.  Die twee hoofkarakters is Pieter en James.  Te midde van donker oomblikke
vind hulle hoop, liefde en die groter doel van hulle lewe op aarde.  “Hartsbegeertes” sal jou inspireer om voluit te lewe en jou doel op aarde te ontdek. En daardie doel is om jou lewe aan God toe te wy.

“Hartsbegeertes” sal vir jou ‘n hoopvolle blik op die wêreld gee en jou help om dit met ander oë te aanskou.  Ons het almal ons eie planne, maar wat is God se plan vir jou lewe? 
Die film bring die werklikheid van hoop, geloof en liefde binne ons daaglikse worstelinge.  Onderwerpe soos geloof, finansies en gesondheid (kanker) word aangespreek.  Daar is ‘n plan vir elke mens se lewe en deur donker tye van beproewing word ons karakter gevorm.  Die hart van die film is gebaseer op die beginsel dat daar ‘n hoopvolle plan vir jou lewe is en jy ‘n doel op aarde het.

 

“THE SHREWD MANAGER”  :  ‘N RESENSIE

“The Shrewd Manager” is deel van ‘n reeks “Modern Parables” wat die gelykenisse van die Bybel dramaties binne die moderne konteks voorstel.  Dit is gebaseer op Lukas 16:  1-9 “Die gelykenis van die oneerlike bestuurder”. In die DVD word ‘n oneerlike plaasbestuurder afgedank en hy probeer dan vinnig ‘n plan maak om weer vir hom werk te verseker. 

Saam met die DVD is daar ‘n studiegids, wat vir Bybelstudie gebruik kan word.

deur Henriëtte Boot

 

“Henri Stap Aan”   is geskryf deur Lizette Murray wat ook vir die LEEF-tydskrif oor die familie en gesinslewe skryf. Lizette is die ma van 5 seuns, waarvan Henri die middelste seun op 4 Junie 2005 by Millerspunt deur ‘n haai aangeval is. Sy liggaam is nooit gevind nie. Die oënskynlik gelukkige gesin is deur sy dood ook met pyn en swaarkry gekonfronteer. Henri was met sy dood besig met ‘n graad in medisyne. Hy was ‘n kunstige, liefdevolle en avontuurlustige jong man. Dis ‘n baie mooi huldeblyk en getuienis van Henri wat nou aangestap het na sy ewige, hemelse woonplek. By die Mediateek is ook 2 kopieë van ‘n CD beskikbaar wat gemaak is tydens ‘n byeenkoms waar Lizette die susters oor “Henri Stap Aan” toegespreek het. Dis beskikbaar onder die titel “Boodskap van Troos”.

Deur Henriëtte Boot

 

"ALIVE – Louie Giglio"
Hierdie DVD bestaan uit 2 praatjies.
In die eerste praatjie vertel en wys Louie (`n uitstekende spreker) hoe wonderlik God die mens gemaak het. Hy neem jou op `n reis deur die menslike liggaam, wat heeltyd wys hoe God ons met `n spesifieke doel gemaak het.
Die tweede praatjie gaan meer oor die praktiese van hierdie doel. Mens hoor dat dit nie saak maak hoe goed of sleg jy dink jy is in ons strewe om in die hemel te kom nie. Wat regtig saak maak is of ons siele deel geword het van die oneindigende lewe deur Jesus Christus.
Dit is geskik vir oud en jonk – Kyk dit gerus!!!

Deur Henning Venter

“Liglopers”   is die inspirerende verhaal van Andries Hendrik Potgieter se reis van die donkerte van dwelmverslawing en homoseksualiteit na die lig van volkome verlossing en genesing. Andries Hendrik is ‘n direkte afstammeling van die Voortrekkerleier met dieselfde naam. Hy het saam met Sya van der Walt, ‘n politieke joernalis, hul verhaal aan Maretha Maartens vertel. Andries is as jong seun gemolesteer en was vir 5 jaar vasgevang in dwelmverslawing en homoseksualiteit.
Wat vir my die aangrypendste van die boek is, is dat Andries Hendrik erken dat Jesus Christus en ware Christelike liefde nie in die wêreld van homoseksualiteit of dwelmverslawing bestaansreg het nie. Homoseksualiteit bly sonde en dis ‘n geweldige getuienis in ‘n wêreld waar alles wat sonde is deesdae vergoeilik word. Dit is die tipiese verhaal van die verlore seun wat teruggekom het na sy vaderhuis toe. Die belangrikheid van volhardende gebed en volgehoue geloof vir uitkoms word duidelik geïllustreer deur Andries Hendrik se ouers wat aangehou bid en glo het vir hul seun se verlossing en bekering. Wonderlik om te weet dat wonderwerke nog gebeur.

Deur Henriëtte Boot