In 'n moderne wêreld wat dikwels gevorm word deur vlugtige sosiale media-verbintenisse en oppervlakkige interaksies, vervaag die begrip van ware vriendskap al hoe meer. Die mens is van nature selfgerig en geneig om verhoudings te koester solank dit voordele of gerief inhou; maar wanneer teëspoed, opoffering of persoonlike koste ter sprake kom, trek ons dikwels terug. Spreuke 17:17 bied vir ons 'n Bybelse waarheid wat 'n lens is waardeur ons kan kyk na wat vriendskap werklik behoort te wees.
'n Vriend betoon ten alle tye liefde, en 'n broer is gebore vir tye van nood. (Spreuke 17:17, 2020-vertaling)
1. Vriendskap as 'n verbintenis van liefde Die eerste deel van die vers beklemtoon 'n konstante onvoorwaardelike liefde wat standvastig bly, selfs wanneer die verhouding nie vir jou voordeel inhou nie. Selfs wanneer vriende 'n fout maak, stap ons nie weg van die vriendskap nie, maar ons stap juis na hulle toe met vergewensgesindheid, geduld en opbouende teregwysing.
2. Vriendskap wat gebore is vir die nood Ware vriendskap bewys sy egtheid en getrouheid wanneer die lewe moeilik raak. Om 'n broer in nood te wees beteken om daadwerklik daar te wees – om te luister, praktiese hulp te verleen en mekaar se laste te dra (vgl. Galasiërs 6:2).
3. 'n Vriend wat in Christus gegrond is Ons is van nature selfgerig, maar eers wanneer ons deur die ware Vriend – Jesus Christus – verander word, kan ons sy karakter in vriendskappe weerspieël. Jesus het tydens ons diepste nood mens geword en sy lewe vir ons afgelê (vgl. Hebreërs 2:11, Johannes 15:13).
'n Bybelse vriendskap is radikaal en behels: Getrouheid, Opofferings, Waarheid, Gebed en Aanwesigheid. Hierdie vriendskappe is nie net mooi nie, maar ook geestelik vormend – dit bou gemeenskappe, versterk geloof en dra die geur van Christus.
'n Uitdaging vir jou! Spreuke 17:17 is 'n uitnodiging om die soort vriend te wees wat God bedoel het, en verhoudings te bou wat die storms van die lewe kan deurstaan. Laat ons as gelowiges opstaan om dié tipe broers en susters te wees wat die wêreld en die kerk dringend nodig het!
Gepubliseer in Kruispad Augustus 2026 weergawe / Geskryf deur ds Ruan Steyn

